Verkeerslig werk

Verkeerslig
Verkeerslig

Verkeerslig werk selfs in lêende posisie – Daar is al so baie gepraat, gekla en selfs gesoebat oor die vragmotors wat deur ons dorp beweeg.

Sommige pleidooie word gelewer ten gunste van die vragmotors en hulle bestuurders en ander word gelewer met die hoop dat dié swaarmotorverkeer eenvoudig uit die dorp sal verdwyn. Baie kan oor beide standpunte gesê word, vir en teen elke saak, maar sekere feite staan vas. Die dorp se strate is eenvoudig nooit gebou met die oog op die baie verkeer wat deesdae in en deur die dorp beweeg en nog minder vir sulke swaar padgebruikers soos die vragmotors nie. Die dorpsuitleg was ook nooit daarvoor beplan nie. Hoe moes ons stadsvaders van die jare her ooit kon visualiseer watter groot “reuse” nog hier deur die dorp sou beweeg in die “toekoms”? Die strate is dus ook nie breed genoeg vir dié vragwaens se gebruik nie en dit veroorsaak die beskadiging en selfs vernietiging van baie munisipale eiendom.

Op Sondagmiddag, 6 September, is ‘n verkeerslig opgemerk wat platlê op die sypaadjie, in die hoofstraat, by die kruising met Krugerstraat. Na die lekker reëntjie het die modder duidelik getoon dat dit vragmotorskade was. Dié vragmotor kon vermoedelik eenvoudig nie sy draai kry nie en het die verkeerslig omgery. Die verkeerslig het daar op die sypaadjie nog gelê en werk, maar die drade was ontbloot. Wye esse in breë modderspore het in Krugerstraat gelê … Op vele ander hoeke en sypaadjies is die verwoestende spoor van hierdie groot vervoermiddels ook te sien en ‘n mens kan maar net wonder waar dit alles gaan eindig. Miskien leer die onderstebo verkeerslig ons tog ‘n lessie: moet jou nie sommer laat onderkry nie, al is die omstandighede nie juis ideaal nie, probeer maar nog steeds jou bes. Soms is aanhouer regtig die wenner. Nadat die verkeerslig weer regop gehelp is, op Maandag 7 September, kon hy weer normaal funksioneer, maar terwyl hy gelê het, het hy nie “moed opgegee” nie …

Ontblote kragdrade en vragmotorspoor
Ontblote kragdrade en vragmotorspoor