Rustplaas Dog Shelter

Rustplaas Dog Shelter: Wie, wat en dankie! “A home without a dog is just a house”.

Soos berig in die Excelsior Nuus van 10 April 2015, neem ‘n privaatgesin sedert 2002 hawelose honde in: Honde wat seergekry het, weggegooi is, net afgelaai is, verlore geraak het of “uitgesit” moet word omdat hulle eienaars nie meer ‘n hond kan, of wil, aanhou nie. Louis, Mariana, ma Elsa en die Fourieseuns versorg hier- die diere met liefde (wat ‘n veilige hawe, ‘n warm droë slaapplek en kos insluit), totdat hulle van ouderdom doodgaan. Die honde beweeg vrylik op die erf rond en word nie in hokke aangehou nie. Honde van Piet Retief (die meeste), Ermelo, Amsterdam en die Nerston -, Bothashoop – en Mahamba Grenspos is al daar ingeneem en versorg.

Die Fouries doen dit net omdat hulle lief is vir honde en omdat verwaarloosde honde ‘n heenkome nodig het. Die gesin bied skuiling net vir honde en funksioneer onafhanklik van Mkhondo Animal Shelter, Piet Retief Animal Care Centre en die SPCA. Skuilinghonde word nie verkoop of weggegee nie maar kan wel in uitsonderlike gevalle “uitgeplaas” word, onderhewig aan streng voorwaardes en keuring. Eienaars van verlore honde kan Louis kontak te 083 308 0729. Dalk het die hond by hulle beland of weet hulle waar die verlore hond hom/haar bevind. Louis bedank graag, veral, sy pragtige vroutjie wat hom so ondersteun met die “hondeding” al is dit partykeer moeilik vir haar. Sy is immers baie lief vir ‘n mooi tuin en grasperk, maar met 40 honde wat vrylik rondbeweeg …

Sy is ook allergies vir dierehare! “Maar”, sê Louis, “sy byt vas en gee liefde en ondersteuning aan my (dankie tog) en die honde.” Louis bedank verder graag die res van sy gesin: Louis, Conrad en Armand (hulle seuns) en veral sy ma, Elsa Venter, wat elke dag na die honde omsien, en hulle kos, liefde en aandag gee. “Ma is goud werd en beteken baie vir ons en die honde. Baie dankie, Ma! Ma verstaan die honde en is lief vir hulle, en dit is belangrik”. BAIE dankie ook aan die volgende persone wat al ruim bygedra het, of steeds bydra, in die vorm van kontant, broodnodige afslag, hondekos, kom-berse, slaapkaste en so meer (geen spesifieke volgorde nie): Annelene Broodryk en veearts, Fiona, by Ermelo Dierekliniek, Dieter en Wolfgang en hulle personeel van PetsVet, Anton Appleton en Joey Pienaar van Piet Retief Abattoir, Matt en WC van Farmpure Meats, Joni MacDonald en Andrew, Ursula Pols, Derek Pols, Rochè Pearse, Lorinda Everson, Hendrik Steenekamp en Ma- rius Gouws (Bosbou-gholfdag), Madi Rens, Cornel Potgieter, lede van Mkhondo Animal Shelter, Frik Bouwer en Excelsior Nuus (vir beriggewing). Dit word werklik baie waardeer! Louis vra verskoning as hy iemand uitgelaat het wat gehelp het en sê: “Dankie ook aan jou”.

Dankie aan al die honde- en diereliefhebbers en al die ondersteuners van Rustplaas Dog Shelter vir morele ondersteuning en kommentaar op Facebook. Louis sê hy sukkel maar met die byhou en die “hoe maak mens” van die Facebook- bladsy, maar hy leer, al kan hy sê: “I was born before technology.” Daar is tans 40 honde by Rustplaas Dog Shelter en dit raak nou ‘n groot finansiële las. ‘n 25kg sak hondekos hou so een en’n half tot twee dae maksimum, ‘n dipsessie (1 maal per maand) werk uit op R1 500-00, siektes (wat gelukkig baie selde voorkom) moet behandel word en tewe moet gesteriliseer word. Enige hulp sal uiteraard baie waardeer word! Die Fouries is tans besig om alle dokumente te voltooi om ‘n besigheidsrekening te open vir Rustplaas Dog Shelter waarin finansiële donasies inbetaal kan word waarmee veeartskostes betaal sal kan word en hondekos gekoop sal kan word. Tans word hondekosdonasies egter uiters dringend benodig! Intussen doen die Fouries ‘n beroep op die gemeenskap om mooi te kyk na hulle eie honde en hulle liefdevol te versorg en waardeer.