Lelies van die veld

Hierdie aronskelklelies het uit die
Hierdie aronskelklelies het uit die

In die Excelsior Nuus van 28 Augustus, is ‘n berig geplaas oor “Ons kosbare water” waarin kommer uitgespreek is oor die erge graad van besoedeling in veral die spruit en vlei-areas in die dorp.

Die water lyk nog net so sleg en mense strooi nog steeds hulle rommel daar en dit is regtig hartverskeurend om te sien hoe sleg die mens met die natuur omgaan in hierdie verband. Onlangs is ‘n pragtige gesig egter deur een van die inwoners opgemerk; tussen al die vullis het die pragtigste spierwit lelies begin groei en blom. Sowaar, daar tussen al die gemors, groei die Zantedeschia aethiopica of te wel die aronskelk, nog beter bekend as varkore of varkblomme. Die blomme vorm ‘n skrille, maar pragtige kontras met die vuilgoed en afvalmateriaal wat daar gestort is en probeer hard om steeds die omgewing te versier, veral na die heerlike reën in hierdie omgewing.

Dit laat ‘n mens onwillekeurig dink aan die feniks, die mitologiese pragvoël wat telkens uit die as herrys het. Daar waar dit onmoontlik lyk, kom weer iets moois te voorskyn. Dit gee ook hoop in die sin dat daar waarskynlik altyd iets positief in elke situasie kan wees, selfs in die haglikste omstandighede. Soms is dit net nodig om maar vas te byt en aan te hou totdat dinge weer beter lyk. Ons moet dalk maar soos die lelies aanhou probeer ten spyte van moeilke omstandighede.

Ook die Vader se sorg skiet ‘n mens se gedagtes binne: “Let op hoe groei die lelies van die veld, hulle swoeg nie en maak nie klere nie … hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie …?” Kom ons verfraai ook ons lewensomgewing met ‘n mooi gesindheid en naasteliefde, sodat ons as’t ware die lewe vir ander rondom ons kan mooier en aangenamer maak. Ongelukkig het iemand intussen hierdie pragtige aronskelke gepluk en kon geen nuwe foto’s geneem word nie, maar baie, baie dankie, Juanita Schwab, vir jou mooi selfoonfoto en inspirasie vir hierdie artikel.