Kleuters hou markdag

Nee, kyk, aan kreatiwiteit en selfvertroue skort dit die Graad R kleuters van Elfieland Kleuterskool net mooi niks nie.

Dié kleuterskool het op Vrydag, 28 Augustus, in ‘n wafferse “vlooimark” verander. Elke kleuter het sy eie “stalletjie” versier, beman, geadverteer en die ware uitgestal en verkoop. Verkope is deur middel van kaartjies hanteer en die pryse is eenvoudig gehou. Die kleuters moes ook plakkate maak om hulle ware by hulle stalletjies te adverteer en heelparty het een of ander kostuum aangetrek om by die stalletjjie se tema te pas. Daar is baie deeglik beplan en ouers en grootouers se hulp is ook ingespan. Dit is verstommend om te sien hoeveel vindingrykheid daar in hierdie dorp bestaan. Aan eetgoed wat mooi lyk en lekker smaak was daar geen tekort nie!

Daar was koekies wat soos ware blomme in ‘n blomtuin lyk, kondensmelkspuite (wie sal nou nie daarvoor dokter toe gaan nie?), lekker gevulde roomyshoringkies wat soos hoede lyk en nog baie, baie meer. Selfs die gewilde “minions” was in koekvorm daar! ‘n Vroeë Kersfees is by een stalletjie opgemerk en die dokter was ook daar. Oulike doilie-handsakkies, juwele en helder gekleurde gelukspakkies was daar ook. ‘n Mens kon byna nie kies wat om te koop nie! Die markdag by Elfieland is nou al ‘n jaarlikse instelling en verlede Vrydag was dit reeds die agtste keer dat hulle dit aangebied het. Elke keer ‘n groot sukses. Dit was voorwaar nog eens ‘n heerlike dag vol pret, leer en lekker eet en kuier. ‘n Mens kan byna nie wág vir volgende jaar se markdag nie.

Kom koop n minion-koekie of heerlike horinkie vol soetigheid
Kom koop n minion-koekie of heerlike horinkie vol soetigheid

IMG_6682

kleuters
Gereed vir verkoop – Copy
Charl se sirkushoede
Charl se sirkushoede