Huis Immergroen wel en weë

Huis Immergroen
Onkel Berno Kohlmeier

Huis Immergroen wel en weë – Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan …

Dit is nooit lekker om afskeid te neem en totsiens te sê nie, maar dit is nou maar eenmaal deel van die lewe hier op aarde. Dit is dan met groot hartseer dat daar hierdie week van tannie Annatjie Vermaak afskeid geneem moes word. Al was sy net vir ‘n kort rukkie in Huis Immergroen woonagtig, neem ons swaar afskeid. Tannie Annatjie (Anna Margaretha Vermaak) het van die hospitaal af haar intrek by die tehuis geneem op 25 Augustus, maar is op 31 Augustus oorlede. Sy was ‘n jare lange inwoner van Piet Retief. Almal by Huis Immergroen bid haar kinders vertroosting toe, met innige simpatie. Mag julle hartseer versag word deur mooi herinneringe wat gekoester word. Goeie nuus is daar ook. Huis Immergroen verwelkom ook ‘n paar “nuwe intrekkers”.

Tannie Annatjie van der Sandt is verlede keer al verwelkom, maar haar foto word in hierdie uitgawe geplaas. Tannie is nog steeds sommer baie, baie welkom! Dan het twee ou bekendes uit hierdie omgewing ook by die geledere van die Huis Immergroen inwoners aangesluit. Baie welkom aan oom Koos Joubert (stof maar solank daardie konsertina af, Oom) en “Onkel” Berno Kohlmeier (“ Herzlich willkommen! Wir müssen singen”). Mag julle verblyf tussen die liefdevolle inwoners, met die versorging van die vriendelike personeel, baie aangenaam en julle baie gelukkig wees.

Die Excelsior Nuus se Loslitdagfeë het op Vrydag, 4 September, wense verkoop en met die opbrengs daarvan koek gekoop wat hulle tydens hulle etensuur aan die inwoners geskenk het. Baie dankie Chantelle, Gina en Monica! Dit word baie waardeer. Ai, elke besoekie, geskenkie, of donasie (hetsy kontant, soetgoed of groente en vleis) word steeds regtig baie waardeer. Mag die gemeenskap van hierdie omgewing nooit moeg word om te deel nie, veral vars groente en vleis word altyd benodig. Ja, “onthou om ons te onthou …” Liefdegroete uit Huis Immergroen

Tannie Annatjie van der Sandt
Tannie Annatjie van der Sandt
Huis Immergroen
Oom Koos Joubert