Aanhoudingselle in haglike toestand

aanhoudingselle
aanhoudingselle

Die aanhoudingselle by die plaaslike polisiestasie is eenvoudig nie op standaard nie.

Volgens ‘n mediaverklaring ontvang van die burgerregteorganisasie Afriforum, op 8 September, het hulle op 17 Augustus vanjaar inspeksie by die plaaslike SAPD-kantoor op Piet Retief gedoen om die toestand van die aanhoudingselle te evalueer. Daar is vasgestel dat slegs drie van die sewe selle tans op standaard is en gebruik kan word weens die versuim van die stasie om slotte en ablusiegeriewe in stand te hou. Dit het daartoe gelei dat ‘n maksimum van slegs 30 gevangenes op ‘n slag aangehou kan word. “Wat egter uiters kommerwekkend is, is die feit dat die plaaslike polisie nie daartoe in staat is om die gemeenskap ten volle te beskerm nie.

Ons beskerm ons eie mense en sal self projekte van stapel stuur indien die regering nie sy grondwetlike verpligtinge nakom nie,” het Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, gesê. Die bestuur van die plaaslike AfriForum- tak het intussen met die stasiebevelvoerder vergader om die aangeleentheid te bespreek en daar is besluit om self die selle tot op ‘n funksionele standaard op te gradeer. “Hoewel ons alles in ons vermoë sal doen om die SAPD tot beweging te dwing, kan ons nie meer agteroor sit en wag dat die regering ons beveilig nie. Dit skep ook geweldige probleme om onwettige immigrante aan te hou en te deporteer wat in hierdie stadium glad nie deur die polisiestasie uitgevoer word nie, omdat daar geen plek in die aanhou-dingselle is nie,” het Johann Weber, voorsitter van die Piet Retief-tak, gesê.

AfriForum het intussen aan die werk gespring om self een van die selle op te gradeer, maar dit blyk egter ‘n duur proses te wees. Daarom gaan Hein Gonzales, Jaco Grobbelaar en Johann Weber gedurende die naweek van 18 September 2015 in die plaaslike SAPD-aanhoudingselle oornag uit protes teen hierdie swak instandhouding en om fondse te bekom. Hierdie manne sal lede van die publiek vanuit die SAPDaanhoudingselle skakel vir donasies om die res van die aanhoudingselle op te gradeer. Hierdie projek gaan nagenoeg R50 000-00 beloop en die AfriForum-tak op Piet Retief doen dus verleë ‘n beroep op die plaaslike gemeenskap om betrokke te raak en ook met enige finansiële bydraes van hulp te wees. Jy kan ook betrokke raak deur “Tronk” na 45350 (R1) te SMS.